PITKOS VIR DIE LANGPAD deur Louis Blom

Die lewe word meermale as ‘n reis voorgestel. In Pitkos vir die Langpad neem Louis Blom sy lesers op ‘n baie persoonlike, dikwels aangrypende manier saam op sy lewensreis van sewentig jaar. Maar dis nie ‘n outobiografie nie. Hy kies eerder – en heel gepas – sewentig stilhouplekke langs sy lewenspad waar hy bietjie van die hoofroete aftrek en nadink oor van sy persoonlike belewenisse om dit in ‘n bepaalde perspektief te probeer plaas. In gemaklike trant vertel hy interessant en onderhoudend van uiteenlopende ervaringe wat in aard en omvang wissel van die alledaagse tot die uitsonderlike. Van kindertyd tot aftreetyd. En wydlopend – van Bonnievale en Drewstasie af, deur die gange van die Laerskool Monte Vista in die Kaap tot by Los Angeles en die Griekse Eilande. Die lekkerte is dat lesers losklos en sonder bagasie die skrywer kan naloop, saam met hom hartseer en opgewonde kan raak, sy humor en guitigheid kan deel en met hom kan nadink en diep dink ten einde ‘n wyer betekenis te ontdek in gewone sowel as ongewone lewensondervindinge.
Want Pitkos vir die Langpad se waarde lê veral ook daarin dat elkeen van die sewentig lewensgrepe waaroor die skrywer besin hom en sy lesers by ‘n besielende geestelike ontdekking uitbring. Met fyn aanvoeling en waarneming wys hy hoe die Gewer van lewe en Sy Woord deurgaans aan elke aspek van die lewensreis betekenis gee.
Kom vat die pad saam met Louis Blom, kom geniet die nadinkplekke op sy trekpad deur die lewe – en kom geestelik verryk by jou eie stilhouplekke uit …
Schalk Burger (Oud-Joernalis)

 

LOUIS BLOM
Louis Blom aanskou die eerste lewenslig in die Paarl, maar sy ouers verhuis later na Drew – ‘n klein spoorweghalte sowat vyftien kilometer anderkant Bonnievale in die Wes-Kaap. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Bonnievale, waar hy hoofseun was van die skool en die skoolkoshuis.

Hy bekwaam homself as onderwyser aan die destydse Wellingtonse Onderwyserskollege. Vroeg in sy onderwysloopbaan aanvaar hy ‘n betrekking by die Laerskool Monte Vista in Kaapstad, waar hy ook in 1997 as skoolhoof aangestel word.

 

Louis se hart lê by die jeug en reeds in 1981 reis hy na Taiwan as afgevaardigde van die Kaaplandse Onderwysdepartement op uitnodiging van die China Youth Corps. Hy loods ook verskeie projekte vir jeugontwikkeling en leierskap, waarvoor hy ‘n oorkonde van die Rapportryerskorps ontvang. Hy trap veral diep spore in Die Voortrekkers, waar hy onder andere die pos as nasionale sekretaris beklee en erelidmaatskap in 2002 aan hom toegeken word. Hy ontvang ook erelidmaatskap van die Tygerberg lnternasionale Eisteddfod waar hy vanaf 1997 in die bestuur gedien het totdat hy in 2015 as voorsitter uittree. Hy is egter nog steeds sameroeper en beoordelaar van verskeie afdelings van die eisteddfod.
Louis reis graag, (as daar geld is!) het ‘n groot liefde vir musiek, fliek en die teater, maar skree ook kliphard vir die Stormers en die Bokke!

Email