Back to History

Boertjie

R299.00

Skrywer: Hannes Deetlefs

 

 

Geagte leser, dit is nou ʼn boek om te geniet, om te herinner, om tot nadenke te beweeg. Die verhaal van die mense van Suidwes en deels van Suid-Afrika van “daardie tye” is hier so noukeurig as moontlik aangeteken. Die feite en daarmee ook die seleksie van temas en gebeure baseer besonders op die baie noukeurige dagboeke, die talle briewe en foto’s van Hermann Deetlefs en Elisabeth Deetlefs-Reimer. Groot moeite is gedoen om so korrek asmoontlik die gebeurtenisse, die emosies, die vrees en verwardheid van daardie moeilike tye weer te gee. Vandag is dit maklik om die genoemde feite per Internet te ondersoek. Natuurlik is daar altyd twee of selfs meer weergawes van hierdie historiese werklikheide: Die wetenskaplik neutrale en die polities gekleurde. Daar is altyd daarna gepoog om die neutrale feite te gebruik, ook dan, wanneer die neutrale feite die een of ander party nie gepas het nie. Baie dinge stem nie meer met die moderne sieninge van vandag ooreen nie, maar, dit is juis waaroor dit gaan: Die minirokkie en nog meer die “skandalige” Bikini was destyds groot nuus, vandag nie. Dit as voorbeeld. Ook is dit ʼn feit dat nie alle bewerings geboekstaaf kan word nie. Baie berus maar op gerugte en bespiegelinge van daardie dae. Dikwels was dit ook maar net gesprekke in die teenwoordigheid van die seun en eie dagboek-aantekeninge wat vir inligting gesorg het.

Persone wat op hul voornaam en van genoem of waar die van met ʼn hoofletter aangedui word, is histories en so ver moontlik korrek weergegee. Persone wat net met voorname genoem word, is histories korrekte karakters en het wel bestaan of is die samevoeging van twee of meer “egte” persone van daardie tyd. Dit geld ook veral vir die lewensverhale van Hermann en Elisabeth Deetlefs self: Daar is net onbelangrikhede weggelaat. Hul goed gedokumenteerde lewensgeskiedenisse is al “storie genoeg” maar tog waar van die begin tot die einde.

Dit is vanselfsprekend dat ook fiktiewe brûe gebou moes word om die informasie sinvol te verbind. Maar ook in die fiktiewe dele is daar gepoog om getrou aan die werklikhede van daardie tyd te bly. Wat dinge geweldig vergemaklik het was dat die “Suidwesters” van daardie dae gewoond was om hewig te redeneer, te praat, te argumenteer. Daar het letterlik niks gebeur wat nie tot in die fynste besonderhede uitgepluis en daar kant gekies is nie. Dit was ook makliker, want die mense het geen televisie gehad nie, nee, hulle het tyd gehad.

Nog ʼn laaste woord oor die gebruik van die Afrikaanse taal: Daar is gepoog om elke individu “sy” of “haar” Afrikaans te laat praat, al was dit nog so plat of foutief. Net by die gebruik van vloekwoorde is daar gepoog om ʼn gangbare middelweg te vind. “Gekruide taal” en woorde wat vandag as polities nie aanvaarbaar geld nie, is so ver as moontlik vermy. Die geneigde leser sal self weet hoe daardie tipe persone, waarop hierdie van toepassing was, gepraat het. In elk geval was dit vir die skrywer, wat self nie vloek nie, ja, nooit gevloek het nie, ʼn ietwat moeilike taak om hierdie middelweg te vind. Dan nog die woordjies soos “sobyso” en “Usikus” wat tog so eie aan die Afrikaans van daardie dae in “Suidwes” was. “Sobyso” kom van die Duitse “sowieso” en beteken “in elk geval”. ’n Afrikaans-sprekende wat in die Republiek die woord gebruik het, het met die woord  onmiddellik  duidelik  gestel  dat  hy  ʼn “Suidwester”  is.  En “Usakos” het net oningewydes gesê. Dit is uitgespreek soos “you-see” in Engels  en “kis” in Afrikaans.

Wholesalers and book stores press here...

BOERTJIE WEBTUISTE
Email