Le Stoof

Skrywer: Frederick Barnard

Grootte: A4

Ek bly in ’n klein woonstelletjie met ’n 3×3 meter kombuis. Daar is geen plek vir ’n stoof nie. Al die “kitsch-crimplene” resepte in hierdie boek het ontstaan in my miniatuuroondjie met sy twee stoofplate. New York, Londen, Parys – om maar net ’n paar te noem – is bekend vir wooneenhede met piepklein kombuise en die meeste jongmense in Suid-Afrika se eerste onafhanklike woning is heel waarskynlik ’n woonstelletjie, ’n meenthuis of ’n klein plekkie in ’n sekuriteitskompleks met ’n klein kombuisie, niks groter as ’n hangkas nie. Daar is gewoonlik nie ’n stoof of plek vir ’n stoof nie. Die goeie nuus is dat jy, met ’n klein stofie in ’n klein kombuisie, groot kan onthaal. Moenie dat jou omstandighede jou keer nie. Kook en kuier soos nog nooit van tevore nie.

Hierdie boek gaan oor regte kos, geen pretensies, ou klassieke “Crimplene/Retro” kos wat uit die hart kom. Die resepte bestaan uit mates en metodes, maar die belangrikste deel van die resep is dat jy jou hart na die tafel moet bring. Maak die kos met liefde. Berei die geregte voor met iemand in gedagte en deel die kos met die mense vir wie jy lief is.

Die lewe is te kort vir swak kos of kos wat slegs aan ‘n gemiddelde standaard voldoen. As jy iets gaan eet, hoe eenvoudig dit ook al mag wees, laat die gereg alles wees wat dit bestem was om te wees.

Daar is min gevalle waar jy die geleentheid kan skep om gesellig en gesamentlik, soos met ’n maaltyd aan tafel, te geniet. Kook vir die mense wat jou na aan die hart lê, sowel as dié wat nog nie is nie en hulle sal jou binnekort na aan die hart lê. Kos het ‘n manier om mense bymekaar te bring.

Kook dus groot in ’n klein kombuis.

Freddie

 

[btn text="Le Stoof on Facebook" tcolor=#FFF bcolor=#0000FF thovercolor=#FFF link="https://www.facebook.com/lestoof/?fref=ts" target="_self"] [btn text="Wholesalers and book stores press here..." tcolor=#FFF bcolor=#444 thovercolor=#FF0000 link="http://booksdirectsa.com/?p=402" target="_self"]
R249.00 Add to basket